“My daddy didn’t like me.”
Dit sal seker die standaard antwoord wees sou ek ooit besluit om op ‘n bank te gaan lê teen R600 per uur. Die eerste en enigste keer wat ek ooit in so ‘n situasie was, was ‘n maand voor die nierskenking/oorplanting om te bepaal of ek kosher genoeg is vir dit wat wag. Ek het op ‘n stoel gesit en die vrou oorkant my se mother-of-pearl sykouse was in skrille kontras met die mat. Ek en sy was wêrelde verwyder van mekaar, Sarah Palin vs Lily Allen.
Sy wou weet of ek oor ’n ondersteuningsnetwerk beskik. Ek wou antwoord dat my Amazing Flying Trapeze gesin tans in Bratislava toer, maar ons Skype gereeld. In Cantonese. Vir interessantheidsonthalwe.
My pa was drie jaar tevore veras. My ma was in ‘n permanente toestand van oblivion en het optelhonde bymekaargemaak, so tussendeur kannas plant en kerk toe gaan. No tight fitting costumes, no magic, no applause.
Ek was verlig dat my pa veilig in ‘n mooi houtkissie op my ma se spieëltafel gerus het. Ek hom self daar ingesit en het ‘n houtlepel gebruik om hom stewig in te druk, die spasie was effe knap vir sy ego. Hy was buite bereik van my deurmekaar wêreld waarin ek urine monsters moes gee en na Suster Beauty se trekkerige Gospel musiek moes luister terwyl sy my bloedtoetse bespreek.
In my eerstejaar tydens telefoondiens het van die eerstejaars ‘n brief oopgemaak, gerig aan ‘n meisie in ‘n ander koshuis wat per ongeluk in ons koshuis se posmandjie beland het. Hulle het gedink dit was ‘n vrybriefie, maar dit was toe van haar pa. Die brief is onbelangrik eenkant toe geskuif en later terwyl ek alleen met my vingers getwiddle het, het ek dit gelees.
En vir ‘n vlietende oomblik het ek gewens ek kon weet hoe dit voel. Liefde, admirasie, trots, verlange, gebondenheid.
As eensaamheid homself geopenbaar het, kan jy nooit weer wegkyk nie.
Nou, na jare van moerigheid oor omstandighede buite my beheer, het die wrewel begin bedaar. Ek sal nooit ‘n pa se oogappel wees, ‘n mooi brief ontvang of my profielfoto op Facebook verander na die van my pa ter ere van Vadersdag nie.
Wat ek wel sal doen is om op Vadersdag foie gras te eet in ‘n overpriced restaurant en dan skuldig te voel oor die gansie wat gelê en roggel het in sy eie vet, tregter steeds in die bek.
Dit help om semi-kosher te wees as jy moet oorleef in die Twilight Zone waar die Brady Bunch en Manson clan piekniek hou met Gospel in die agtergrond.
Nag pa.
Nag ma.
Nag John Boy.