En hoe voel jy daaroor?

“My daddy didn’t like me.”

Dit sal seker die standaard antwoord wees sou ek ooit besluit om op ‘n bank te gaan lê teen R600 per uur.  Die eerste en enigste keer wat ek ooit in so ‘n situasie was, was ‘n maand voor die nierskenking/oorplanting om te bepaal of ek kosher genoeg is vir dit wat wag. Ek het op ‘n stoel gesit en die vrou oorkant my se mother-of-pearl sykouse was in skrille kontras met die mat. Ek en sy was wêrelde verwyder van mekaar, Sarah Palin vs Lily Allen.

Sy wou weet of ek oor ’n ondersteuningsnetwerk beskik. Ek wou antwoord dat my Amazing Flying Trapeze gesin tans in Bratislava toer, maar ons Skype gereeld. In Cantonese. Vir interessantheidsonthalwe.

My pa was drie jaar tevore veras. My ma was in ‘n permanente toestand van oblivion en het optelhonde bymekaargemaak, so tussendeur kannas plant en kerk toe gaan. No tight fitting costumes, no magic, no applause.

Ek was verlig dat my pa veilig in ‘n mooi houtkissie op my ma se spieëltafel gerus het. Ek hom self daar ingesit en het ‘n houtlepel gebruik om hom stewig in te druk, die spasie was effe knap vir sy ego. Hy was buite bereik van my deurmekaar wêreld waarin ek urine monsters moes gee en na Suster Beauty se trekkerige Gospel musiek moes luister terwyl sy my bloedtoetse bespreek.

In my eerstejaar tydens telefoondiens het van die eerstejaars ‘n brief oopgemaak, gerig aan ‘n meisie in ‘n ander koshuis wat per ongeluk in ons koshuis se posmandjie beland het. Hulle het gedink dit was ‘n vrybriefie, maar dit was toe van haar pa. Die brief is onbelangrik eenkant toe geskuif en later terwyl ek alleen met my vingers getwiddle het, het ek dit gelees.

En vir ‘n vlietende oomblik het ek gewens ek kon weet hoe dit voel. Liefde, admirasie, trots, verlange, gebondenheid.

As eensaamheid homself geopenbaar het, kan jy nooit weer wegkyk nie.

Nou, na jare van moerigheid oor omstandighede buite my beheer, het die wrewel begin bedaar. Ek sal nooit ‘n pa se oogappel wees, ‘n mooi brief ontvang of my profielfoto op Facebook verander na die van my pa ter ere van Vadersdag nie.

Wat ek wel sal doen is om op Vadersdag foie gras te eet in ‘n overpriced restaurant en dan skuldig te voel oor die gansie wat gelê en roggel het in sy eie vet, tregter steeds in die bek.

Dit help om semi-kosher te wees as jy moet oorleef in die Twilight Zone waar die Brady Bunch en Manson clan piekniek hou met Gospel in die agtergrond.

Nag pa.

Nag ma.

Nag John Boy.

Posted in Random nothingness | 4 Kommentaar

Philo Rising

Ek het nooit leer kook, of dan kosmaak nie. Kleintyd was die kombuis net  ’n deurloop vanaf die garage met ‘n vinnige vertoef voor die yskas, of die plek met die ongemaklike eethoekie waar my pa gewoonlik tydens ontbyt aan sy krummelpap verstik het, gewoonlik nadat ek weereens (aspris) my stowwerige skoolskoen in my mond gedruk het.

My ma kon die heerlikste disse optower, van pasteie tot kreefsop, groenboontjies met hompe botter en swartpeper, veerligte aartappels, die lys gaan net aan en aan. Sy het die kennis wat sy by my ouma opgedoen het verfyn, verder gevat en voltooi, terwyl ek op dakke rondgeneuk en my tande met behulp van skaatsplanke uitgeval het.

Sover ek kan onthou het sy nooit die beginsels van ‘n goeie huisvrou aan my probeer verduidelik nie, dalk het sy heinlik gehoop ek word ‘n dokter of ‘n ding met ‘n kosvaardige metroman by die huis, maar nader aan die waarheid is dat sy skuins duskant 40 was met my geboorte en nie kans gesien het om my in te hardloop en te vang vir ‘n kookdemonstrasie nie. Vir jare na skool het ek geleef van rooiworsies en skyfies en het groente en vrugte vermy soos voetskimmel in ‘n koshuis-stort, ten spyte van my broer se skeerbuik vermanings.

Ek het wel een Saterdagmiddag garnale oopgesny en skoongemaak vir ‘n eks-lover se anal ma vir haar 50ste (om te impress, sien), net om later die aand my vals, rooi duimnael te probeer uitgrou tussen die gaar garnale in ‘n bak op die middel van die tafel.  Slippery little suckers. Die familie was almal sulke uitgeteerde skepsels, en my vraatsige handvol garmale met die (hopelik ongesiende) plastiek naeltjie tussenin het hulle sekerlik vreeslik voor die hoenderbors gestuit.

Die kort en die lank hiervan is; ek het nooit aan kos gedink nie. Kosmaak en alles wat daarmee saamgaan was laag op my lysie, heelwat laer as seks, cocktails en die broodnodige skokterapie wat gereeld op my disfunksionele familie toegepas is. Maar soos alles in die lewe is die dinge wat jy afskeep geneig om jou bekruip soos die jare aanstap en jou op die skouer te tik as jy regmaak vir trou en die *kug* verantwoordelike lewe wat voorlê

Ek het wortels verbrand.

Water in ‘n warm pot vol kookolie getap en my na die tyd verwonder aan die swart patrone teen die muur.

Hoender vir ure in ‘n slowcooker laat prut en die uiteinde was beensop.

Gedog mens maak cottage pie van skaapmince, net so, sonder speserye.  Liewe donner, ek gril nou nog.

Daar was vreeslike oneetbare disse aan die begin, maar ek het nie moed opgegee nie. Na baie kopkrap het ek besef mens moet lief wees vir kos. Jy moet die bestanddele van ‘n resep vertroetel soos ‘n hasie en sagkuns te werk gaan met growwe boerpampoen wat die potensiaal het om as waterige drade in ‘n pot op te eindig. En dan eendag, sommer so vanself, het jy en kos ‘n verstandhouding en wantrou die groente, vleis en speserye jou nie meer soos ‘n grommende hond wat vrees ruik nie.

Vandag is die kombuis ‘n warm, veilige plek in my huis. My yskas bevat meer as Coke en niemand het nog aan krummelpap verstik nie.

En die rooi, vals naels? Saam met die behoefte om te beïndruk begrawe en vergete.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Posted in Uncategorized | 2 Kommentaar